Sluit by ons span aan!

🐾 101 PET PRODUCTS BREI UIT!

Ons soek 'n Kantoor persoon wat meer as een ding op ñ slag kan doen...

Is jy die tipe persoon wat daarvan hou wanneer dinge netjies, korrek en volgens 'n goeie sisteem werk?

Kan jy selfstandig werk, maar ook lekker deel wees van 'n klein span? Is jy gemaklik met kliënte, rekenaars, sosiale media én om jou moue op te rol en 'n paar bokse te pak?

Dan wil ons graag van jou hoor!

Ons is op soek na 'n verantwoordelike, noukeurige en energieke E-commerce (Online sales) en kantoorpersoon om by die 101 Pet Products-span aan te sluit.

Hierdie is 'n praktiese pos waar jy betrokke sal wees by amper elke deel van ons e-commerce besigheid — van bemarking en kliëntediens tot voorraad, bestellings en versendings.

Belangrik: Ons verkoop nie diere nie, versorg nie diere nie, speel nie met diere nie... Ons verkoop diereprodukte aan diere mammas en -pappas en help hulle so goed ons kan met raad en idees vir hul vierpootkinders. 

🐶 WAT GAAN JY DOEN?

Jou verantwoordelikhede sal onder andere insluit:

  • Ons webwerf op datum hou, insluitend produkte, pryse, voorraad en inhoud.
  • Produkte en bestellings op Takealot en Amazon bestuur en op datum hou.
  • Basiese bemarking vir Facebook en ander digitale kanale doen.
  • Produkte aktief bemark en help om ons kliëntebasis te laat groei.
  • Kliënte professioneel en vriendelik via WhatsApp, e-pos en ander kanale help.
  • Bestellings verwerk en seker maak dat elke bestelling korrek is.
  • Produkte pak en voorberei vir versending — ja, jy gaan bokse pak! 
  • Algemene administrasie en rekordhouding.
  • Bestaande prosesse volg en help om beter en meer doeltreffende maniere van werk te identifiseer.

💜 WIE SOEK ONS?

Ons soek iemand wat:

Uiters noukeurig is.
Lief vir detail is een van die belangrikste vereistes vir hierdie pos. 'Amper reg' is ongelukkig nie reg nie.

Afrikaanssprekend is en baie goeie geskrewe Afrikaans het.
Ons kliëntebasis is hoofsaaklik Afrikaans en ons bemarking word in Afrikaans gedoen. Goeie Afrikaans en spelling is dus nie onderhandelbaar nie.

Goed met mense is.
Jy gaan daagliks met kliënte werk (meestal op WhatsApp). Ons soek iemand wat vriendelik en professioneel kommunikeer en werklik goeie kliëntediens wil lewer.

Van prosesse en sisteme hou.
As lyste, orde en 'n lekker werkende sisteem jou gelukkig maak, gaan jy waarskynlik lekker hier werk. 😄

Selfstandig kan werk.
Ons soek iemand wat 'n taak kan vat en dit kan deurvoer sonder dat iemand voortdurend moet opvolg.

Ook goed in 'n span kan werk.
Ons is 'n klein span en almal help waar dit nodig is.

Hou van nuwe dinge leer.
Ons kliënte gaan jou kontak vir raad en advies wat wissel van watter kossies om vir Wagter te koop, tot watter shampoo Fiefie gaan laat ophou juk en watter katspeelgoed sal maak dat Lillie uiteindelik ophou om die gordyne uit te klim.

💻 REKENAAR- EN E-COMMERCE VAARDIGHEDE

Jy hoef nie 'n bemarkingsgraad of grafiese ontwerpkwalifikasie te hê nie.

Jy moet egter gemaklik wees met rekenaars en tegnologie en bereid wees om nuwe sisteme vinnig aan te leer.

Ervaring met of goeie kennis van die volgende sal 'n groot voordeel wees:

Shopify • Takealot • Amazon • Canva • ChatGPT/AI • Facebook • Microsoft Office • Excel • Outlook

Ervaring met 'n soortgelyke e-commerce- of inhoudbestuurstelsel sal ook in jou guns tel.

🚗 EIE VERVOER IS NIE ONDERHANDELBAAR NIE

Jy moet jou eie betroubare voertuig hê.

Ons bedoel nie net vervoer werk toe en terug nie. Jy sal soms gedurende die werksdag voorraad of ander items by verskaffers moet gaan haal.

📦 EN JA... HIERDIE IS E-COMMERCE

Dit beteken jy gaan nie die hele dag net agter 'n rekenaar sit nie.

Daar is dae waarop jy gaan bemark, produkte laai en kliënte help — en daar is dae waarop jy gaan voorraad ontvang, bestellings uitsoek, bokse pak en koeriers bespreek.

Ons soek iemand wat gemaklik is met albei.

🕗 WERKSURE

Hierdie is 'n voltydse, kantoor-gebaseerde pos van Maandag tot Vrydag gedurende gewone kantoorure.

Dit is nie 'n werk-van-die-huis-, fleksietyd- of naweekpos nie.

💰 BELANGRIK OOR DIE VLAK VAN DIE POS

Hierdie is 'n administratiewe e-commerce pos.

Dit is nie 'n senior bestuurs- of bestuurderspos nie. Hou dit asseblief in gedagte wanneer jy jou salarisverwagting aan ons stuur.

📩 HOE OM AANSOEK TE DOEN

Stuur die volgende na HR@101petproducts.co.za:

  • Jou volledige CV.
  • Jou verwagte maandelikse salaris.
  • Jou kennisgewingstydperk of wanneer jy beskikbaar sal wees om te begin.
  • Drie verwysings van vorige werkgewers met kontakbesonderhede
  • Een image van 1080 x 1080 pixels waar jy enige produkt op ons webwerf in Afrikaans bemark. Dink aan 'n tipiese "Produk van die dag" uitleg, met 'n kort teks beskrywing saam met elke image. Jy hoef regtig nie ure hieraan te spandeer nie, ons wil net sien of jy 'n baie basiese ontwerp in 'n paar minute aanmekaar kan slaan, met die regte tipe info, en in Afrikaans. 
  • En, baie belangrik, 'n motiveringsbrief (in Afrikaans) wat spesifiek vir hierdie pos geskryf is. Ons weet baie mense gebruik ChatGPT hiervoor, en dis ook "okay" as jy bietjie hulp inroep, maar maak asb seker dat ons JOU hoor in die brief... ons kan vinnig sien wanneer ons met 'n rekenaar praat en gaan daardie aansoeke nie noodwendig oorweeg nie.

In jou motiveringsbrief wil ons graag weet:

Waarom wil jy by 101 Pet Products werk?
Waarom dink jy is jy die regte persoon vir hierdie spesifieke pos?
Watter ervaring en vaardighede het jy wat jou geskik maak vir die rol?

⚠️ LEES ASSEBLIEF HIERDIE DEEL TWEE KEER:

Aansoeke sonder 'n motiveringsbrief sal nie oorweeg word nie.

Indien daar nie 'n motiveringsbrief wat spesifiek vir hierdie aansoek geskryf is, saam met jou aansoek is nie, sal ons nie jou CV vir die pos evalueer nie.

Noukeurigheid is 'n kernvereiste van hierdie pos — en jou aansoek is reeds ons eerste geleentheid om dit te sien. 🐾

Dink jy hierdie pos klink soos jy? Ons hoor graag van jou!